Thursday 29 September 2016

Slaai in 'n bottel


Hierdie is seker een van my gunsteling middagetes op 'n warm dag. Dis lig, vinning en maklik om te maak. Toe ek nog by Get it gewerk het, het ek en my vorige kollega een keer 'n hele spread oor salad in a jar gedoen en dit was vet pret.

Ons het so lekker rondgespeel met verskillende geure en kleure. Ek het nou nie fancy groentes in my yskas gehad vandag nie, 'n paar chickpeas moet maar doen, ag maar dis ook o.k. Wat lekker hiervan is, is dat jy sommer 'n paar verskillende slaaie op 'n Sondagaand kan maak en dan is jou lunch vir die res van die week gewax.

Ek het ook so bietjie gaan oplees oor slaai in 'n bottel en watter bestanddele waar in die bottel moet gaan. Die belangrikste is om enige slaaisous wat jy wil gebruik heel eerste in te sit. As jy dit nie doen nie gaan jou groente tien teen een pap raak en nie meer so lekker vars proe nie. Tweede is enige proteine, graankosse, bone ens. Daarna kan jy klein goedjies bysit soos neute, rosyne of jou vars groente soos tamatie en komkommer. En dan laaste, maar ook die belangrikste, jou blaarslaai - dit gaan sorg dat jou slaai lekker vars proe.

En dis dit. Dit hang natuurlik af van jou bestanddele, maar die slaai wat ek vandag geeet het is rerig vullend en ek sal twee dae aan hom kan eet, dit hang ook natuurlik af hoe groot jou bottel is. Dis 'n lekker idee vir jou middagete in die somer en nie baie moeite nie. Probeer dit, sal nie spyt wees nie.

My slaai vandag bestaan uit:

* Griekse slaaisous
* 'n Blikkie chickpeas
* Hoender fillet in blokkies gesny
* Tamatie
* Komkommer
* Wortel
* Blaarslaai


Monday 26 September 2016

Tuisgemaakte groen ystee


Vandag is dit vrek warm en daar is niks vir my so sleg soos 'n warm koppie tee in die tipe weer nie. Ek is ongelukkig een van daai vrouens wat net na 'n stukkie brood of pizza kyk dan pyn my maag en die ergste van als is ek is so lief vir daai twee goed, so dit beteken ek moet maar 'n ou groenteetjie elke dag drink om te help. Ek probeer om tenminste drie koppies 'n dag te drink, dit doen wonders en is rerig goed vir enige iets, veral die maag.

Die smaak is defnitief nie vir almal nie, maar ek het nou al gewoond geraak daaraan en as jy 'n tee koop wat 'n lekker geur het dan voel dit nie soos die einde van die wereld as jy daai koppie moet afwurg nie. In die winter was dit baie maklik om my drie koppies te drink, maar deesdae sukkel ek  maar as dit so warm is. So, vanoggend besluit ek toe ek gaan vir my lekker ystee maak waarvan ek die heeldag kan drink. Ek het nog net een keer van tevore ystee gemaak, so ek het maar gedoen wat ek dink gaan werk.

Dis rerig vrek maklik en smaak soos nog. Ek het 'n baie lekker appel en peer groentee van Five Roses gekoop so rukkie terug, ek het vier tee sakkies en vier koppies kookwater in 'n pot gegooi en dit vir 'n paar minute laat trek. Ek het die sakkies uitgehaal en die tee in 'n glas houer gegooi en toe yskoue water en ys bygegooi. Ek het so twee eetlepels heuning bygegooi - onthou om dit by die warm tee mengsel gegooi, nie as dit reeds koud is nie. Ek het 'n paar aarbeie en vier suurlemoen stukke bygegooi en dis dit.

Dis rerig lekker vars, jy kan dit met enige tee doen en jy kan bygooi net wat jy wil of wat jy in jou yskas het. Dis 'n lekker somers drankie en goed vir die maag. Probeer dit en maak dit mooi vir jouself mooi dan gaan jy juis heeldag daarvan wil drink. Ek sit nou juis en geniet my tee terwyl ek met julle klets.



Thursday 22 September 2016

'n Tikkie vintage


Ek lief enige iets vintage en hierdie ou boeke wat so opmekaar gestapel is, is vir my altyd so mooi in 'n huis. Toe ek en Francois drie en 'n half jaar terug getrou het, het ek vir my wonderlike moeder gevra of sy sal troubeplanner speel - en ek sou dit nie anders wou gehad het nie. Sy ken my so goed en weet presies waarvan ek hou en wat my styl is.

Ons het nie rerig 'n tema gehad nie, maar later het ek besef dit gaan eintlik maar 'n baie vintage troue wees en ek was heel happy met dit.Van kleins af het ek van ou en antieke goed gehou, ek het dit definitief by my ma gekry, sy is stout vir 'n antique. Die paar maande voor die troue het ek nog in Pretoria gebly en my ma in George, waar ons getrou het. Sy het toe begin om die die ou boeke so vas te bind met mooi kant en 'n ou lepel of watokal mooi gelyk het. So hier en daar was daar 'n mooi stapel boeke op die tafels en dit het so mooi gelyk, en rerig so mooi gepas by als.

Ek het hierdie stapel hierbo uit almal gekies na die tyd - dit was vir my die mooiste een. Ek het self 'n paar ou boeke hier in ons boekrak wat ek en Francois maar so by al die oumas en oupas geerf het. Ons eetkamer tafel was vir my moer boring en als wat ek op hom probeer het, het net nie gewerk nie. Toe onthou ek van die ou boeke en watse mooi touch dit 'n tafel kan gee. Ek het toe al my ou boeke bymekaar gemaak en ou lint en kant uitgekrap. Ek het 'n mooi ronde plekmatjie op die tafel gesit, die ou boeke daarop gesit en 'n mooi antieke potjie langs dit met fynbos in. Dit het so oulik gelyk toe maak ek sommer vir ons kamer ook 'n stapeltjie en ek weet dit het oulik gelyk want tot Francois het verby geloop en gese: "sjoe dis nou oulik, ek laaik dit."

As jy lief is vir vintage is hierdie rerig 'n oulike manier om 'n tafel of 'n rakkie op te kikker. As jy nie van die boeke het nie kan jy by enige tweede handse winkel gaan loer, dis vrek goedkoop. Baie van julle weet ook reeds hiervan, so dis nou nie asof ek iets nuut aan julle voorstel nie - ek wys eintlik maar net hoe maklik dit is en hoe dit kan lyk.

Die boeke op ons troudag.
 
 
 

Wednesday 21 September 2016

Ek versamel graag


Soos julle seker nou al kon aflei hou ek maar daarvan om "kakkies" te versamel, ek is nou nie een van daai weird hoarders op TLC wat 'n probleem het nie, maar ek hou maar van 'n ou antieke blikkie of 'n mooi potjie...regte "kaggel kakkies" soos wat mense dit noem.

Een versameling waaroor ek gladnie skaam is nie, is my carft bier versameling en nee daar is nie meer bier in nie en nee ek het nie almal opgedrink nie. Al is ek self lief vir 'n koue biertjie op sy tyd, het ek die bier drinkery vir die manne gelos. Francois en al ons vrinne weet al teen die tyd hulle mag nie 'n craft bier koop sonder om vir my die bottel te hou nie. Shame, ek dink hulle het al 'n paar slegte outjies gedrink net omdat ek die bottel wou gehad het.



Ek versamel al seker so drie of vier jaar enige cool ou botteltjie wat karakter het, en al die botteltjies trek elke keer saam as ons verhuis. In Barberton het dit op so ou rak gestaan, maar die jaar was ek lus vir iets anders. Die drie goed teen die muur wat soos rakke lyk is eintlik dele van ou bye kiste wat Francois vir my opgetel het. Ek het hulle, glo dit of nie, self teen die muur vasgeboor. Die eerste twee het baie goed gegaan, maar soos julle met die laaste een kan sien het ek bietjie gestruggle (kyk daai gate in die muur) - blykbaar was die spesifieke boorpunt nie vir 'n muur bedoel nie...oops.

Maar ja, daar is my botteltjies - ongelukkig het daar al 'n paar gebreek, maar dit beteken net ons moet maar weer iewers gaan kuier en 'n paar craft biere geniet. Elke botteltjie het sy eie karakter en ek dink die name fasineer my die meeste; Whale Tale, Kwak, Lumber Jack en daar is tot 'n Lucifer - hy maak jou blykbaar baie stout.

Ag, ek deel sommer met julle iets waarvan ek baie hou en as een van julle ooit 'n cool botteltjie het, kom kuier asb en sit hom by die res van sy broers en susters.

Natuurlik is daar 'n spekboompie in - ek is 'n vrou
 
 


Tuesday 20 September 2016

Noem my sommer tannie blikkies


Soos julle seker teen die tyd kon agter kom is ek so effe blikkie-mal, maar hoe kan ek dan nie wees nie? Ek het so rukkie terug met 'n klomp blikkies gesit en nie lekker geweet wat om daarmee te maak nie, en toe slaan die idee my dubbel en dwars tussen die oe.

Ek het maar so oor die jare stukkies kant bymekaar gemaak wat ek saam met geskenke of trou uitnodigings gekry het, so ek besluit toe om op elke blikkie 'n stukkie kant te plak. Dit het baie oulik gelyk, maar ek was nogsteeds nie tevrede nie. Ek skryf toe "welkom" op een van die blikkies net om te kyk hoe dit gaan lyk en toe ek weer sien is al ses blikkies vol woorde bekrap.

Ek het die blikkie by ons voorhek gehang wat dit toe sommer baie vroliker laat lyk en jou gaste wat kom kuier voel sommer ekstra welkom, plant dan net 'n vetplant in en daar gaan jy! Maklik ne? Ek het 'n klein gaatjie in elke blikkie geboor sodat dit makliker is om dit op te hang en 'n mooi ietsie op elkeen geskryf. "Blom waar jy geplant is", "huis is waar jou hart is", daai tipe corny goed. En toe hang ek sommer 'n hele string van hulle by 'n draad af. Jy kan dit met enige tou of lint hang, net nie 'n zef kleur wat als gaan spoil nie, asb.

En ek gaan dit nou nie weer se nie, ek dink julle is al moeg daarvoor, maar jy weet wat jy altyd in die koskas het ne ;)

 

Monday 19 September 2016

Palet DIY


Ek het julle belowe dat ek oor my palet gaan gesels en hier is hy nou! Ek is so trots soos 'n rots op hierdie projek. Kyk, ek en 'n boor is nie beste tjomme nie, maar ek het met my eie persoonlike twee hande elke blikkie wat jy op daai palet sien, daaraan vasgeboor. Kom ek begin nou eers by die begin.

So, almal is natuurlik bewus van die palet trend wat so paar jaar terug begin het. Van banke tot bedkassies kan uit palet gemaak word. Ek wou al vir so lank iets daaruit maak, maar of daar was nie tyd nie of ek was bloot net nie lus nie. Toe ek nou hierdie jaar so lekker vrye tyd het was dit 'n gulde geleentheid vir my om uiteindelik ook 'n palet projek aan te pak. O.k, o.k dis nou nie moerse ingewikkeld nie, maar ek is nogsteeds trots op dit.

Ons bure het die palet vir R10 in Humansdorp gekoop en vir my gegee. Ek het die perfekte plekkie gehad daarvoor gehad op ons voorstoep. Francois het my gehelp om dit kleiner te maak en my gewys hoe ek die blikkies aan die palet moet vasboor, en dit was dit. Ek het 'n paar keer 'n paar lelike vloekwoorde gebruik en ook 'n paar keer baie amper van die stoel afgeval waarop ek gestaan het, maar nietemin het ek dit voltooi. Na die tyd het ek gaatjies aan die onderkant van elke blikkie geboor, grond ingesit en in elkeen 'n vetplant geplant - so maklik soos dit.

Dit gee die stoep 'n lekker atmosfeer en dis rerig maklik om te maak. Soos ek 'n vorige keer ook gese het, ons almal het maar altyd 'n ou blikke baked beans in die koskas - versamel so 10 blikkies, kry vir jou 'n palet en doen die ding. Jy sal nie spyt wees nie en as ek dit kan doen kan jy ook.



Friday 16 September 2016

My diere kinders



Ek wil graag bietjie gesels oor my vier-been kinders wat ek so lief het. Ek was van kleins af lief vir diere, maar die tipe liefde wat ek vir hierdie honde het is next level. Hulle vorm deel van my daaglikse lewe - so hoekom sal ek dan nou nie oor hulle 'n ou ietsie skryf nie?
Ons het altyd op skool honde gehad, maar dis iets helemal anders as jy jou eie honde het wat jy self grootmaak.


Ontmoet vir Daisy. Almal weet al sy is my oogappel, bloot oor die feit dat sy MY heel eerste hondjie was wat ek self groot gemaak het. Sy was die mooiste klein bondeltjie toe ons haar gekry het en nou lyk sy soos 'n stok ou ouma op drie. Sy het die mooiste hart, sy dink sy is 'n tier en sy is die jaloerste van almal, maar ek sal haar vir niks verruil nie. Sy is mooi van lelik met 'n hart van goud.


Hierdie is Simba, my liefling hond. Ons het hom so maand na Daisy gekry, hy was baie mishandel toe hy klein was en 'n vriendin van pa het hom gaan red uit 'n baie slegte situasies. Ons het hom ingeneem en met baie liefde en aandag het hy in 'n baie oulike hond verander, alhoewel hy nogsteeds maar skrikkerig is, veral vir mans, is hy tien keer beter as toe ons hom gekry het. Ek noem hom die dokter, as een van die ander honde 'n seerplekkie het le hy altyd langs hulle en lek daai plekkie totdat dit gesond is.

Hy en Daisy het toe verlief geraak, liefde gemaak en toe is Rosy gebore...


Sy het defnitief haar looks by haar pa gekry. Ou Rosy, sy het die mooiste gesindheid en ek noem haar die vrede maker. So lekker vet en fluffy soos wat sy is, kry mens haar dood eenvoudig net nie om te cuddle nie. Sy swaai heeltyd haar lyf rond en sy kan actually glimlag en tande wys - die oulikste ding om te sien.



En toe kry ons vir Boesman. Hy is 'n Belgian Malinois, ek was altyd bang vir die tipe honde, maar Boesman het my siening totaal en al verander. Francois het groot geword met German Sheppards en het my heeltyd gesmeek om so een te kry. Dit was so twee jaar terug toe hy my een middag bel en se hy het nog 'n hond gekry - ek het rerig gedink hy maak joke, toe kom hy en Boesman by die huis aan...ek was nie n happy camper nie, maar na 24 uur was ek lief vir hom. Hy het 'n groot hart, hy is baie slim en hy is die beste waghond.


En hierdie is liewe Lilly, die enigste en bederfste kat van die van Zyl gesin. Kyk, ek het nooit van katte gehou nie. Ek het gedink hulle is lui met geen persoonlikheid nie en ek moet bieg ek was ook bietjie bang vir hulle. Baie mense het ons raad gegee en gese dat dit goed is om 'n kat op 'n plaas te he omdat hulle die muise, rotte en slange vang. Ek het toe maar ingestem en toe ons vir klein Lilly op vier weke kry was ek dadelik verlief op haar, en sy het my hele opinie oor katte verander. Sy het swag, attitude en die coolste persoonlikheid. Sy hou ons almal op ons tone en sy en Daisy is beste maats. Sy volg my orals rond en ek kan nie dink dat ek so lief vir haar kon word nie.

So daar is hulle almal, die een stouter as die ander, maar ek kan vandag nie my lewe sonder hulle in dink nie!

Thursday 15 September 2016

Beskuit bak is 'n kuns


So, gister het die beskuit-bak-gogga my gebyt. Is daar ooit so iets? Anyway, daar is darem maar niks so lekker soos karringmelk beskuit en 'n koppie boeretroos nie.

Ek weet dis nie 'n maklike storie nie, of wel nie vir my nie, ek kook vir jou enige dag 'n hond uit 'n bos uit, maar ek is nou nie juis 'n bo-baas bakster nie. Ek besluit toe nogtans ek gaan my bes probeer. Op my 21ste verjaarsdag het my tannie vir my 'n Kook & Geniet gegee - een van die coolste geskenke wat mens vir 'n jong vrou kan gee.

Ek pluk hom toe uit en kry op bladsy 291 'n lekker resep. Dit lyk heel eenvoudig en billik, dink ek by myself. Ek gaan koop toe al die bestanddele, stoot my moue op en pak die outjie aan. Ek moet bieg ek moes een of twee keer my ma bel om te hoor of daar 'n groot verskil is tussen gewone karringmelk en aangesuurde karringmelk, blykbaar is daar nie, sy het darem baie goeie tips gegee. Die resep se toe ek moet dit in bolletjies rol en in 'n pan plaas, dis hoekom dit effens vet beskuite is - as iemand dalk gewonder het.

Ek moet se ek was trots op my eerste poging toe ek dit uit die oond uithaal. Ek laat dit toe bietjie afkoel, breek dit in stukke en sit dit weer in die oond om te droog. Ek het nie besef dit moet vir blerrie 6 tot 9 ure nog in die oond wees nie. Ek stel toe maar my wekker vir 23:30 sodat ek die oond kan gaan afsit, maar ek gaan slaap toe gelukkig want ek weet daar is vars gebakte, tuisgemaakte karringmelk beskuit vir Francois as hy opstaan.

Toe hy vanoggend daai eerste hap vat toe klink dit asof hy 'n klip in sy koffie gedoop het. Shame en al wat hy se is, "hmm dis lekker, maar ek dink dit was net so bietjie te lank in die oond liefie." Bless his soul.
Ek het self 'n stukkie probeer, ek moes hom so bietjie langer in die tee los om lekker sag te word, maar die smaak is nogal lekker - al moet ek self se.

Ek en Francois het 'n "nou weet ons" lysie. As ons iets koop of doen wat rerig simpel is en totaal en al nie die moeite werd is nie, dan sus ons, ons gewete deur te se "ag, maar ou weet ons." So, nou weet ek, ek moenie volgende keer my beskuit so lank uitdroog nie.

Ek sit sommer die resep by vir enige iemand wat dit wil probeer. Onthou net om dit nie te lank te laat droog word nie ;)







Tuesday 13 September 2016

Versier jou blikkies


Ek het van die begin van die jaar af besluit om nie meer my blikkies weg te gooi nie omdat daar rerig soveel oulike goed is wat mens met dit kan doen.
Ek het dit eers gebruik vir 'n palet waarin ek vetplante geplant het (ek sal nog daaroor skryf), later het ek kant oorgetrek en natuurlik is daar fynbos ingedruk, maar toe raak ek gatvol en onthou ek het drie of vier jaar terug al my ou botteltjies beplak met mooi prentjies. En daar ontwikkel toe weer 'n lekker idee.

Ek het al my tydskrifte uitgepluk en begin spoeg en plak. Dit was net gom, blik en papier waar jy kyk. Dis rerig die maklikste en mees eenvoudgiste manier om 'n blikkie op te jazz. Ek het sommer vetplante in elke blikke geplant en dit staan nou die hele stoep vol.

Ek deel baie keer my fotos op instagram en dis waar my skoonsus sommer toe 'n bestelling plaas vir haar suster se baba tee in Oktober. Ek moet se ek het baie gevly gevoel en dis lekker om iets te maak met 'n doel anders raak die stoep net oorvol!

En almal het omtrent altyd 'n blikkie sweet corn of baked beans in die kos kas. So, onthou om volgende keer nie jou blikkies weg te gooi nie...

Fynbos, fynbos, fynbos



Dis mooi ne? Ek kan rerig se dat ek elke dag in die pragtige fynbos op my koffie tafel kan vaskyk. Ek noem dit sommer 'n kleurvolle deurmekaarspul. Ek het nooit rerig fynbos geken nie, maar toe ons hier aan kom het ek rerig 'n nuwe liefde ontdek vir die pragtige fynbos, heide, proteas, fonteinbos, vaalkreupelhout en enige flippen ding wat 'n mooi blommetjie aan het, waarmee ons omring is. Dit moedig my ook aan om elkeen se regte naam te leer ken, ek sukkel nog bietjie, maar ek kom daar. Ek dink my oupa sou trots wees, hy was so lief vir die natuur - dit was sy lewe en sy passie.

Ek loop net by die hek uit met my mandjie in die hand dan maak ek hom propvol - in elke mootlike potjie in die huis word daar fynbos ingedruk. En die tyd van die jaar is hulle ekstra mooi.

Ek ry baie saam met Francois op die plaas rond en gil gedurig dat hy moet stop as ek iets mooi sien - dan hardloop ek oor die klippe en dorings om 'n mooi koning protea of heide te pluk. Hard life ne?

Ek brag sommer bietjie met die rangskikking wat die week op die tafel is, langs my oupa se boeke.


Vaalkreupelhout




Om 'n huisvrou te wees is vrek lekker


Ek wik en weeg nou al heeljaar of ek hierdie blog gaan begin of nie...dis seker nou bietjie laat, maar ag wat. Die wat my goed ken weet ek het reeds twee blogs agter my naam (almal moerse amateur-agtig, natuurlik), maar dis rerig net vir my soms 'n ontvlugting. Ek dink ook die feit dat ek so lief is vir skryf het my aangemoedig om die een te begin. Ek glo mens is elke jaar in 'n ander seisoen, dus kan ek sommer elke jaar 'n ander blog begin.

Ons het twee jaar in Barberton, Mpumalanga, op 'n plaas gebly. Ek het as joernalis by Laeveld Media gewerk en elke dag op 'n vieslike grondpad werk toe gery, maar as ek nou terug kyk was dit uit en uit die moeite werd. Ek het so baie geleer en soveel dinge gesien en beleef waarvoor ek so dankbaar is.

Toe my man 'n pos tussen P.E en Jeffreysbaai aangebied word einde laasjaar, het ons nie twee keer gedink nie. My hart le maar nogaltyd by die see. Ons moes binne 'n kwessie van 'n maand ons hele huis op pak en ons en al vier honde het die pad aangedurf. Op 5 Januarie het ons op Longmore gearriveer. Een woord om die plek te beskryf: beeldskoon. Omdat Francois 'n bosbouer is sal ons maar altyd op die plantasies bly wat meestal beteken die naaste dorp is 'n halfuur weg.
Ek het besluit ek gaan vir eers nie werk soek nie, ek wou eers die huis uit pak en my voete vind. En al ons gunsteling mense in ons lewe het almal besluit om sommer in een jaar te trou, so dit beteken kitchen teas, bachelorettes, troues, ens ens ens wat bygewoon moet word.

Die eerste drie maande was so lekker by die huis. Ek het als gedoen waarvoor ek nooit tyd gekry het nie. Van DIY projekte tot koek bak, maar dan kom daar ook 'n tyd wat mens dit mis om lekker besig te wees, om uitdagings te he en om by die huis te kom na 'n lang dag se werk en jou bed te waardeer. Ek het later begin skuldig voel dat ek in die posisie kan wees met die wete dat daar soveel ander vrouens is wat dit soveel meer verdien. Ek het begin uitkyk vir werk, en tot vir 'n onderhoud gegaan...maar dit was ook nie rerig die werk vir my nie.

En op 'n dag het ek net besluit, nee wat ek gaan hierdie tyd benut, geniet en daai skuldgevoel by die deur uitgooi! En dis waar ek nou is. Ek gaan elke oomblik koester van hieridie seisoen.

En dan is die snaakste vir my as mense hoor ek is 'n huisvrou is hulle reaksie of: "ag dis lekker" of "ag shame, nou wat doen jy heeldag?". Nee dis gladnie shame nie, dis eintlik blerrie lekker om soveel vryheid te he. Ek kan in die pragtige plantasie gaan stap, ek het so baie DIY projekte waaraan ek werk, ek het honde wat aandag soek, huis skoonmaak is 'n werk op sy eie, ek het 'n wonderlike man wie ek kan bederf met lekker kos, ek kan lees, skryf, basies doen net wat ek wil!

Ja, dis nou nie moerse uitdagend nie en ook gladnie stresvol nie, maar dis heerlik. Ek voel hierdie is my bederf jaar! So, al is daar net een of twee van julle wat my stories gaan lees, is dit ook reg. Ek het baie om te vertel.