Tuesday 13 September 2016

Om 'n huisvrou te wees is vrek lekker


Ek wik en weeg nou al heeljaar of ek hierdie blog gaan begin of nie...dis seker nou bietjie laat, maar ag wat. Die wat my goed ken weet ek het reeds twee blogs agter my naam (almal moerse amateur-agtig, natuurlik), maar dis rerig net vir my soms 'n ontvlugting. Ek dink ook die feit dat ek so lief is vir skryf het my aangemoedig om die een te begin. Ek glo mens is elke jaar in 'n ander seisoen, dus kan ek sommer elke jaar 'n ander blog begin.

Ons het twee jaar in Barberton, Mpumalanga, op 'n plaas gebly. Ek het as joernalis by Laeveld Media gewerk en elke dag op 'n vieslike grondpad werk toe gery, maar as ek nou terug kyk was dit uit en uit die moeite werd. Ek het so baie geleer en soveel dinge gesien en beleef waarvoor ek so dankbaar is.

Toe my man 'n pos tussen P.E en Jeffreysbaai aangebied word einde laasjaar, het ons nie twee keer gedink nie. My hart le maar nogaltyd by die see. Ons moes binne 'n kwessie van 'n maand ons hele huis op pak en ons en al vier honde het die pad aangedurf. Op 5 Januarie het ons op Longmore gearriveer. Een woord om die plek te beskryf: beeldskoon. Omdat Francois 'n bosbouer is sal ons maar altyd op die plantasies bly wat meestal beteken die naaste dorp is 'n halfuur weg.
Ek het besluit ek gaan vir eers nie werk soek nie, ek wou eers die huis uit pak en my voete vind. En al ons gunsteling mense in ons lewe het almal besluit om sommer in een jaar te trou, so dit beteken kitchen teas, bachelorettes, troues, ens ens ens wat bygewoon moet word.

Die eerste drie maande was so lekker by die huis. Ek het als gedoen waarvoor ek nooit tyd gekry het nie. Van DIY projekte tot koek bak, maar dan kom daar ook 'n tyd wat mens dit mis om lekker besig te wees, om uitdagings te he en om by die huis te kom na 'n lang dag se werk en jou bed te waardeer. Ek het later begin skuldig voel dat ek in die posisie kan wees met die wete dat daar soveel ander vrouens is wat dit soveel meer verdien. Ek het begin uitkyk vir werk, en tot vir 'n onderhoud gegaan...maar dit was ook nie rerig die werk vir my nie.

En op 'n dag het ek net besluit, nee wat ek gaan hierdie tyd benut, geniet en daai skuldgevoel by die deur uitgooi! En dis waar ek nou is. Ek gaan elke oomblik koester van hieridie seisoen.

En dan is die snaakste vir my as mense hoor ek is 'n huisvrou is hulle reaksie of: "ag dis lekker" of "ag shame, nou wat doen jy heeldag?". Nee dis gladnie shame nie, dis eintlik blerrie lekker om soveel vryheid te he. Ek kan in die pragtige plantasie gaan stap, ek het so baie DIY projekte waaraan ek werk, ek het honde wat aandag soek, huis skoonmaak is 'n werk op sy eie, ek het 'n wonderlike man wie ek kan bederf met lekker kos, ek kan lees, skryf, basies doen net wat ek wil!

Ja, dis nou nie moerse uitdagend nie en ook gladnie stresvol nie, maar dis heerlik. Ek voel hierdie is my bederf jaar! So, al is daar net een of twee van julle wat my stories gaan lees, is dit ook reg. Ek het baie om te vertel.



No comments:

Post a Comment