Thursday 15 September 2016

Beskuit bak is 'n kuns


So, gister het die beskuit-bak-gogga my gebyt. Is daar ooit so iets? Anyway, daar is darem maar niks so lekker soos karringmelk beskuit en 'n koppie boeretroos nie.

Ek weet dis nie 'n maklike storie nie, of wel nie vir my nie, ek kook vir jou enige dag 'n hond uit 'n bos uit, maar ek is nou nie juis 'n bo-baas bakster nie. Ek besluit toe nogtans ek gaan my bes probeer. Op my 21ste verjaarsdag het my tannie vir my 'n Kook & Geniet gegee - een van die coolste geskenke wat mens vir 'n jong vrou kan gee.

Ek pluk hom toe uit en kry op bladsy 291 'n lekker resep. Dit lyk heel eenvoudig en billik, dink ek by myself. Ek gaan koop toe al die bestanddele, stoot my moue op en pak die outjie aan. Ek moet bieg ek moes een of twee keer my ma bel om te hoor of daar 'n groot verskil is tussen gewone karringmelk en aangesuurde karringmelk, blykbaar is daar nie, sy het darem baie goeie tips gegee. Die resep se toe ek moet dit in bolletjies rol en in 'n pan plaas, dis hoekom dit effens vet beskuite is - as iemand dalk gewonder het.

Ek moet se ek was trots op my eerste poging toe ek dit uit die oond uithaal. Ek laat dit toe bietjie afkoel, breek dit in stukke en sit dit weer in die oond om te droog. Ek het nie besef dit moet vir blerrie 6 tot 9 ure nog in die oond wees nie. Ek stel toe maar my wekker vir 23:30 sodat ek die oond kan gaan afsit, maar ek gaan slaap toe gelukkig want ek weet daar is vars gebakte, tuisgemaakte karringmelk beskuit vir Francois as hy opstaan.

Toe hy vanoggend daai eerste hap vat toe klink dit asof hy 'n klip in sy koffie gedoop het. Shame en al wat hy se is, "hmm dis lekker, maar ek dink dit was net so bietjie te lank in die oond liefie." Bless his soul.
Ek het self 'n stukkie probeer, ek moes hom so bietjie langer in die tee los om lekker sag te word, maar die smaak is nogal lekker - al moet ek self se.

Ek en Francois het 'n "nou weet ons" lysie. As ons iets koop of doen wat rerig simpel is en totaal en al nie die moeite werd is nie, dan sus ons, ons gewete deur te se "ag, maar ou weet ons." So, nou weet ek, ek moenie volgende keer my beskuit so lank uitdroog nie.

Ek sit sommer die resep by vir enige iemand wat dit wil probeer. Onthou net om dit nie te lank te laat droog word nie ;)







1 comment:

  1. My liefie my moet maar volgende keer na vyf ure proe of dit al droog genoeg is.Gedink jy maak gesondheids beskuit.Dit lyk in elk geval heerlik.Jys n ster duisend.Jy maak die lewe lekker lyk by julle.

    ReplyDelete