Monday 19 September 2016

Palet DIY


Ek het julle belowe dat ek oor my palet gaan gesels en hier is hy nou! Ek is so trots soos 'n rots op hierdie projek. Kyk, ek en 'n boor is nie beste tjomme nie, maar ek het met my eie persoonlike twee hande elke blikkie wat jy op daai palet sien, daaraan vasgeboor. Kom ek begin nou eers by die begin.

So, almal is natuurlik bewus van die palet trend wat so paar jaar terug begin het. Van banke tot bedkassies kan uit palet gemaak word. Ek wou al vir so lank iets daaruit maak, maar of daar was nie tyd nie of ek was bloot net nie lus nie. Toe ek nou hierdie jaar so lekker vrye tyd het was dit 'n gulde geleentheid vir my om uiteindelik ook 'n palet projek aan te pak. O.k, o.k dis nou nie moerse ingewikkeld nie, maar ek is nogsteeds trots op dit.

Ons bure het die palet vir R10 in Humansdorp gekoop en vir my gegee. Ek het die perfekte plekkie gehad daarvoor gehad op ons voorstoep. Francois het my gehelp om dit kleiner te maak en my gewys hoe ek die blikkies aan die palet moet vasboor, en dit was dit. Ek het 'n paar keer 'n paar lelike vloekwoorde gebruik en ook 'n paar keer baie amper van die stoel afgeval waarop ek gestaan het, maar nietemin het ek dit voltooi. Na die tyd het ek gaatjies aan die onderkant van elke blikkie geboor, grond ingesit en in elkeen 'n vetplant geplant - so maklik soos dit.

Dit gee die stoep 'n lekker atmosfeer en dis rerig maklik om te maak. Soos ek 'n vorige keer ook gese het, ons almal het maar altyd 'n ou blikke baked beans in die koskas - versamel so 10 blikkies, kry vir jou 'n palet en doen die ding. Jy sal nie spyt wees nie en as ek dit kan doen kan jy ook.



No comments:

Post a Comment